Skipskop, Skipskop, wanner hou die dinge op? ....


‘n Paar uur vanaf Kaapstad en baie naby Arniston (Waenhuiskrans) sal jy die ou (en nou verlate en vervalle) vissersdorpie Skipskop vind.  Skipskop was vroeër jare baie gewild, veral vir sy visvang plekke en asemrowende kusgebied.  Hier kon jy na hartelus visvang. 

 

Die plaaslike vissersgemeenskap en inwoners moes egter plek maak vir die ontwikkeling van Denel se Overberg Toetsbaan (OTB) in 1984.  Vandag word geen toegang of visvang meer op Skipskop toegelaat nie.  Die area word nou deur die OTB gebruik vir missiel toetse.

 

Diegene met goeie herinneringe van Skipskop gedurende sy dae as voorspoedige vissersdorpie, sal altyd weer teruggeneem word met David Kramer se liedjie omtrent Skipskop se mense wat moes oppak en wegtrek van hul geliefde kusdorpie.

 

Alhoewel die aangrensende, De Hoop, Natuurreservaat besoek kan word, word geen toegang tot Skipskop verleen nie.

 

Die OTB hou gewoonlik jaarliks ‘n opedag waartydens besoekers die geleentheid kry om Skipskop te besoek.  Vir party van ons sal Skipskop altyd ‘n “magical” plek bly, en miskien is dit die rede waarom party van die besoekers (meestal oud inwoners en vakansiegangers) jaar na jaar terug gaan na Skipskop tydens die OTB opedae.

 

As jy ooit die geleentheid kry om Skipskop te besoek, moet dit nie misloop nie!

  

Die idee van hierdie webtuiste het ontstaan weens die gebrek aan informasie en inligting op die internet m.b.t. Skipskop, asook die verskeie onbeantwoorde vrae van mense oor die eintlike rede waarom Skipskop gedurende die vroeë 1980's gesluit is en die inwoners hervestig is. My huidige informasie is gebrekkig en slegs gebaseer op my eie navorsing, my besoek as kind aan Skipskop en my besoek gedurende een van die OTB opedae in 2005.  Ek wil ook graag hiermee poog om ‘n nagedagtenis te bewaar vir oud inwoners en vakansiegangers van Skipskop.

 

Ek versoek dus alle besoekers aan hierdie webtuise wat bekend was met Skipskop, hetsy oud inwoners, vakansiegangers of hulle familie en vriende om my asseblief van inligting, stories en foto’s te voorsien wat ek hier kan plaas.

 

Inligting en fotos kan per e-pos aan my gestuur word by  skipskop@live.co.za   Kontak my gerus indien u enige probleme ondervind met die elektroniese versending van material.  Enige bydraes (veral foto’s) sal waardeer word!

 

 

Opgedateer op:  04 Julie 2008

 

 

Free Web Hosting