Agtergrond



Waar kom Skipskop se naam vandaan?

Skipskop se naam is afgelei van Skip se kop. ‘n Skip, die "Maid of the Thames" wat daar in 1848 gestrand het, se boeg het vir ‘n lang tyd bokant die water uitgesteek. (Is daar miskien iemand wat vir my 'n foto hiervan kan verskaf  wat ek hier kan plaas?)

 
Vywers

Visvywers het ‘n belangerike rol in die lewe van die inwoners van Skipskop gespeel.  Plat klippe is gebreek en dan in krale gepak.  In die verste punt van die vywer was ‘n sluis wat gelig kon word.  Die vywers is ook viskrale genoem.  Die vis het met hoogwater in die vywers ingeswem en is dan met laagwater daar vasgekeer en deur inwoners verwyder.

 
Visvywers


 
Vakansies op Skipskop

Die meeste vakansiegangers op Skipskop was mense wat jaarliks daarheen teruggekom het.  Hulle was dikwels boere van Robertson, Ashton, Stormsvlei of Bonnievale.  Hulle het na Skipskop gekom vir die viswaters, eerder as die strand.  Skipskop het 'n kampeerterrein gehad, maar die kampery was nooit baie formeel nie.  Die meeste mense het in tente gewoon.  Agter die winkel was 'n watertenk met 'n kraan en kouewaterstorte vir die kampeerders.  Daar was ook huisies wat aan vakansiegangers verhuur is.  Baie meer danse is gewoonlik gedurende vakansietyd op Skipskop gehou.


 
Visvang

Baie mense het by Skipskop gaan vakansie hou met die uitsluitlike doel om te gaan visvang.   Vis was volop by Skipskop en 'n groot verskeidenheid vissoorte het daar voorgekom.  Die water het baie geleidelik dieper geword en met laagwater kon 'n mens meer as 'n kilometer, al op die riwwe langs instap.  Van die vissoorte wat baie gevang is, was kabeljou, galjoen, kolstert, wit steenbras, belman, swart steenbras, rooi streenbras, roman, elf, pens-en-derms, en die sogenaamde seventy four, 'n vis met reënboogkleure.

 
Dans

Daar is veral tussen Kersfees en Nuwejaar op Skipskop gedans.  Danse is aanvanklik in die waenhuisie langs die winkel gehou.  Die musiek is gewoonlik deur die inwoners verskaf en toegang was verniet.  Gereelde vakansiegangers het ook by Skipskop se danse musiek gemaak.  Later is 'n danssaaltjie op die koppie gebou.  


Waarom is Skipskop gesluit?

Dit is seker die vraag wat by die meeste mense ontstaan wat van Skipskop gehoor het, maar nie die storie agter die sluiting daarvan en die hervestiging van sy mense ken nie . 

In 1981 het Krygkor (nou Denel) ‘n projek begin waar hulle ‘n missiel toetsfasiliteit iewers langs die Suid-Afrikaanse kus wou oprig.  Die gebied waarop uiteindelik besluit is, het gestrek net oos van Waenhuiskrans tot teenaan De Hoop en weer net oos van De Hoop tot by Kaap Infanta.  Die westelike helfde van hierdie area sou Skipskop insluit. In Desember 1983 het die Kabinet besluit dat daar met die projek voortgegaan kon word.  Onderhandelinge is met grondeienaars begin en inwoners van die gebied is skriftelik in kennis gestel dat die projek sou voortgaan.  In April 1984 het die OTB met hulle eerste konstruksie werk begin.

 

Gedurende die laaste jaar voor Skipskop gesluit is, het die inwoners en die mense wat gereeld daar gekom het, ‘n hele paar funksies in die danssaaltjie gereël om van die plek afskeid te neem.  Omdat almal geweet het dat die Kersfees van 1984 Skipskop se laaste Kersfees sou wees, het daar daardie jaar baie vakansiegangers na Skipskop gekom.  In Maart 1985 het die laaste mense uit Skipskop weggetrek.  Van die inwoners is deur Krygkor hervestig op Bredasdorp, Struisbaai en Waenhuiskrans (Arniston).


Free Web Hosting